NEWS

Klerksdorp Course

Vir meer as 15 jaar al bied die Maré’s van Klerksdorp ‘n Simbra beginnerkursus aan vir graad 11 leerders van die Klerksdorp Hoërskool. Vir baie van die leerders wie landbou as skoolvak neem is dit ‘n hoogtepunt van hul akademiese jaar. Die punt wat hul verwerf tydens die kursus tel dan ook vir hul gr 11 jaarpunt vir die vak. Die geleentheid word gebruik om leerders meer te leer van beeste, en om hul belangstelling in beesboerdery verder te prikkel. Dis veral nodig in die lig daarvan dat talle leerders nooit op ‘n plaas kom nie, omdat hulle self nie boer nie en ook nie noodwendig familie of vriende het wat boer nie. Vir talle skole wat landbou as ‘n vak aanbied is dit onmoontlik om leerders praktiese blootstelling te gee, en hierdie kursus bied vir leerders dan die geleentheid om blootgestel te word aan die praktiese sy van beesboerdery. Hulle word spesifiek geleer waarom strukturele korrektheid in beeste so belangrik is, asook wat ‘n dier funksioneel doeltreffend maak. Hulle kry dan ook die geleentheid om ‘n waardebepaling te kan doen van die beeste waarmee hulle werk. Ook belangrik dat die leerders meer leer van Simbras, en dis lekker om te kan sê dat 5 van die 27 leerders wie die kursus gedoen het met ‘n A simbool geslaag het. Ons dank aan Oom Fanie, Jaco en Orgie Maré wie as kursusleiers opgetree het.